Skip to content

Piet Tande en mondhigiënis bring glimlagte na Vredenburg Laerskool

VREDENBURG – Solidariteit Helpende Hand se gewilde tandgesondheidsmaskot, Piet Tande, het ‘n leersame en vreugdevolle besoek afgelê by Laerskool Vredenburg as deel van die organisasie se jaarlikse Weskus-streektoer.

Die besoek vorm deel van Helpende Hand se voortgesette streeksinisiatief om gesonde leefgewoontes, selfbewussyn en vroeë welstand onder jong kinders te bevorder. Met sy kenmerkende energie en humor het Piet Tande die leerders op ‘n prettige, toeganklike manier bewus gemaak van die belangrikheid van goeie tandversorging, gereelde borsel en gesonder koskeuses.

‘n Hoogtepunt van die oggend was die bydrae van mondhigiënis Ester Kruger wat die leerders op ‘n kindervriendelike manier ingelig het oor basiese mondgesondheid, hoe tandbederf voorkom kan word, en hoekom gereelde tandheelkundige sorg so belangrik is. Haar praktiese verduidelikings en interessante voorbeelde het die boodskap verder versterk.

Aan die einde van die sessie het Ester vir elke leerder ‘n spesiale verrassing gehad: ‘n tandeborsel en tandepasta, geskenk deur Colgate, as deel van hul ondersteuning vir die inisiatief. Die leerders het dit met groot opgewondenheid ontvang en het belowe om die lesse van die dag by die huis toe te pas.

Laerskool Vredenburg is een van verskeie skole wat tydens die Weskus-toer bereik is, en Helpende Hand se Piet Tande-program bevestig steeds die waarde van opvoedkundige, speelse intervensies om kinders te bemagtig met gesonde gewoontes wat ‘n lewenslange impak kan hê.