Weskussers is plesierig – toe maak hulle só!

  • by

Deur: Charl Pretorius

Riaan De Witt is ‘n plesierige Afrikaner wat nogal hou van partytjies. En gesels. En redeneer. Miskien so bietjie moeilikheid stook ook. Dis mos lekker. Een aand, in Februarie, in 2012, terwyl die branders naby sy huis in Dwarskersbos breek en die son agter die horison wegsak en hy ‘n Olaffie skink en ‘n bietjie Coke Zero bygooi, besluit hy om ‘n geselsgroep op Facebook te stig.

Weskus Jou Lekker Ding (WLJD) is gebore, oornag ‘n groeiende sukses met 40,000 lede wat aansluit in die nege jaar tot 2020. Maar toe, uit die bloute, verskyn daardie nare spul sensors wat vir Mark Zuckerberg werk en druk die ‘delete’ knoppie en WLJD verdwyn!

Riaan verduidelik: “Met 40,000 mense op ‘n geselsgroep kan enigiets gebeur en gesê word. Facebook het ons summier verwyder as gevolg van klagtes oor sekere inhoud op WJLD, afkomstig van sekere persone wie se name nie genoem is nie. Die klagtes het nie vanuit ons eie geledere gekom nie.

“Ons het WLJD herstig as ‘n private groep op Facebook en tans het ons meer as 14,000 lede. Ons keur elke lid goed voor ons hulle laat aansluit. WJLD is nou ‘word-of-mouth’, want Facebook ondersteun nie private groepe met hulle algoritmes nie. Maar ons groei weer baie vinnig, soms is daar 30 nuwe lede per dag.”
Riaan se resep vir sukses bly dieselfde: “Ek het WLJD begin as ‘n ope forum vir almal, ongeag velkleur of geslag of politieke oorweging. Dit is ‘n forum vir die duisende mense wat daarvan hou om in Afrikaans te gesels, mense wat iets op die hart het, of alleen is, of mooi gedagtes of foto’s wil deel.

WJLD het ‘n familie geword waarin lede mekaar op verskeie vlakke ondersteun, van die deel van resepte na klagtes oor swak dienslewering, kopskud oor ons beroerde regering, stoute grappe, en hier en daar ‘n foto waarvoor mens in die oud dae ‘n paar sterretjies sou nodig hê.

“Niks is taboe nie, ek wou van die begin af geen sensuur toepas nie want ek glo mens moet die voorreg hê om jou mening te lug as jy iets het om te sê. Ons mense kom praat oor kos en sport en modes en allerhande dinge en ons raak selfs aan die taboe-dinge, geloof en politiek. WLJD is die plek waar dit gebeur.”
Die WJLD lede het oor die jare gereeld ‘n samekoms gereel – daar was ‘n lekker braai in Velddrif en een in St Helena en ‘n grote in Langebaan, en vroeg in April vanjaar het Riaan die eerste WJLD Braaifees dag by die Knor Varkie @ Rivershack in Velddrif aangebied, post-Covid en nadat die groep herstig is.

Op Saterdag, 2 April, het dit behoorlik gekook by die gewilde opelug restaurant en kroeg net so klipgooi na links van Velddrif AF. Teen 11- uur was daar reeds 50 mense, teen eenuur het 100 opgedaag en drie-uur was dit oopketels met meet as 200 Weskussers aan’t party, dans en social.

Musiek is een van Riaan en die lede van WLJD se voorliefdes en die sanger Neels Moir het die opskop aan die gang gesit met ‘n puik vertoning, gevolg deur Wouter van der Venter, die hoogtepunt van die middag met sy jolly mengsel van kitaar, singsaam-deuntjies en dansnommertjies. Wouter was in ‘n vrolike luim op die verhoog en, soos dit ‘n goeie kunstenaar betaam, het hy ook die kroeg met oorgawe ondersteun.

Tussenin het WJLD se Franklin Johannes ‘n mooi verwelkoming gedoen en Riaan aan die jolige gaste voorgestel – wel, die wie hom nog nie ontmoet het nie, want ‘Die Hoofseun van die Weskus’ het gereeld by elke tafel aangedoen om homself voor te stel en te kyk of al die glasies vol was!

Toe die son begin sak het Shaun Evans en sy groep, Night Shift, die verhoog oorgeneem, en wat ‘n vertoning was dit nie. ‘n Noemenswaardige windjie het oor die Bergrivier begin waai, en dit was skynbaar ‘n goeie rede vir die Weskussers om meer hout op die vure te gooi, nog ‘n doppie te skink, en harder en langer te dans. Night Shift het hul eie krane hoog oopgedraai. Audio Visial Productions en Rapid Networks het die hele, wilde geleentheid lewendig gestroom.

Riaan raak amper droewig oor die hulp en reëlings wat agter die skerms getref is, en die rol spelers wat teen geen vergoeding gehelp het alles reel, soos Monica Botes, Nadia Nel, en haar Ma en Pa, en selfs suster wat bestendig die ‘venue’ voorberei het. Charlotte en Giele Visser het die Knor Varkie met akkomodasie vir die oornagters beskibaar gestel. Monica Botes het heerlike vis voorberei vir die vroeë gaste wat aan iets wou knibbel voor die vure aangesteek is. Sy en Nadia Nel het seker gemaak dat alles voor en ná die funksie klopdisselboom verloop. Riaan se vrou, ‘Soutie’ was alomteenwoordig en Sielie Labuschagne het blykbaar laatnag ‘n paar private paaldanse uitgevoer vir haar baie Weskus-ondersteuners.

Die Weskus-Hoofseun se volgende plan is om die WJLD Braaidag in ‘n Naweekfees to omskep, groter en beter, stalletjies en al. Dit is alreeds iets om na uit sien want eish, hierdie Braaidag was moerse lekker!